top of page
Search

Eva Sonder Suurstof

  • lizelle949
  • Jan 14, 2019
  • 2 min read

Eva sonder suurstof…

Nou wonder jy seker wat presies is ‘n Eva sonder suurstof?

Dis daardie dame (lees ‘’ek’’) wat in Januarie al vergeet het dat daar Desember verlof was. En wat in week 3 van die 1e kwartaal nog sukkel om in roetine te kom! Daar is ‘n paar sinonieme vir hierdie “Eva sonder suurtsof’’… moeg, geïrriteerd, kortaf en so bietjie moedeloos… Gaan hierdie jaar maar net soos die vorige een verbyhardloop en een groot ‘’blur’’ van gebeure word??

Hierdie suurstoflose reis na nêrens word ‘n maalkolk wat jou so ontydig en onverwags insuig soos ‘n oorbel deur ‘n stofsuier. Ons word onherkenbaar. Een oggend loop jy voor die spieël verby en keer jouself net betyds voor jy die vreemdeling in die weerkaatsing met jou oggendkoffie gooi… En dan wonder ons: is dít waarvoor ek opgeteken het?

Hierdie storie is presies waar vir elke Eva wat hier lees. Eva is so besig om oral alles vir almal te wees, dat sy nooit tyd kry om haar eie suurstofmasker op te sit nie. En dan ly die gesin onder ‘n Eva wat humeurig, kwaai en vol grootmens-tantrums is. Sy word ‘n regte boelie....en 2h in die oggend wanneer dit net jy en jou gewete is, belowe jy plegtig dat jy more beter sal wees, beter sal doen en ‘n pragtige ‘’legacy’’ gaan nalaat. Dit hou natuurlik net tot 6h29 wanneer jy almal (uiteindelik) wakker en dag-gereed het.

Voor ons by die suurstof-plan uitkom: kom ons kyk gou bietjie waar kom die suurstoftekort in…buiten natuurlik vir die voor-die-hand-liggende verklarings.

Genesis beskryf hoe Eva vir Adam gesond probeer hou het met ‘n appel ‘n dag wat die dokter laat wag. (Goed, goed, ek weet dit is my eie waargawe…)

Adam en Eva word gestraf op baie spesifieke maniere. Adam sal in die sweet van sy aangesig sy brood verdien, terwyl Eva met pyn en swaarkry kinders in die wêreld sal bring. Die realiteit is egter dat Eva vandag beide doen! Geen wonder Nivea for Mature Skin en Salusa 45 is eerste op jou Dischem-Lysie nie!

Hier kom die oplossing:

Wanneer jy per vliegtuig oppad is êrens heen, sê die lugwaardin voor die vliegtuig opstyg, die volgende: “In geval van nood, sal daar suurstofmaskers uit die dak val. Sit eers jou eie masker op en dan help jy die mense om jou.” Dit is redelik duidelik: Indien jy weens suurstoftekort omkap en hulpeloos op die vloer lê, beteken jy vir niemand niks! Inteendeel, indien jy buite aksie is, moet ander oor jou bekommer.

So, hier is die 3 stap plan om jou suurstof aan te vul.

- Sit die suurstofmasker op! Hou al die skuldgevoelens, onrealistiese en emosioneel dreinerende suurstofdiewe weg! (Ja, dit beteken jy kan jou skoonma ignoreer!)

- Haal diep asem. Doen die goed waarvan jy hou. Stokperdjies, kreatiwiteit, ontspanning. Jy kom ‘n beter weergawe van jouself terug! (Almal sal bly wees!)

- Hou die suurstofmasker aan. Jy is belangrik genoeg om na jouself om te sien. Versorg jou liggaam, jou hart en jou siel. En hou aan daarmee.

Doen wat jy kan, daar waar jy is, met dit wat jy het!

 
 
 

Recent Posts

See All
Emosionele emmertjie

Emosionele Emmertjies Hoe gaan dit met jou emosionele emmertjie? Is sy vol? Het jy ‘n bron wat haar kan aanhou vul? Het jou emosionele...

 
 
 
Featured Posts
Check back soon
Once posts are published, you’ll see them here.
Recent Posts
Archive
Search By Tags
Follow Us
  • Facebook Basic Square
  • Twitter Basic Square
  • Google+ Basic Square

© 2023 Proudly created with Wix.com

bottom of page